Tuesday, June 1, 2010

Soweto Final

"Ek was nog nooit in Soweto voor Orlando nie, so ek het nie geweet wat om te verwag nie. Maar enige verwagtinge wat ek gehad het, was behoorlik uit die water geblaas.

Wit en swart, oud en jonk, mans en vroue, Bulls en Stormers, vuvuzelas en stilte, ryk en arm…. Wat 'n deurmekaarspul… en tog so pragtig.

Om te sien hoe al hierdie goed bymekaar kom en net die ongelooflikste atmosfeer skep was 'n ervaring wat baie moeilik is om te beskryf… wanneer ek na die tyd met ‘hardebaard-fotograwe’ praat wat al jare in die bedryf is en hulle beskryf hoe ongelooflik dit vir hulle was, weet ek ek was bevoorreg om dit te kon bywoon.

Ondersteuners wat die wedstryde wou bywoon, moes dit 'n uitstappie maak en nie na Loftus ry wat 15min weg van die huis af is nie. Dié mense was heeltemal uit hulle comfort zone gehaal en in die ‘donker dieptes’ geplaas en omdat Soweto almal (lees ons) so met ope arms ontvang het, het dit die tafel gedek vir 'n atmosfeer wat bitter moeilik ooit herhaal sou kon word.

Dankie Soweto. Dankie vir jou shebeens, jou quarts, jou ‘tuisgemaakte’ bier wat soos mampoer proe en dankie vir 'n bevange twee weke van Home Games waar selfs die mees geharde Bulls-ondersteuner Home kon voel in Soweto.

Ek onthou toe ek op die veld gesit het met “Baby Tjoklits” wat in my ore blêr en ek besef: “Ek's in Soweto” op daai oomblik het ek geweet wat transformasie is."